
Kom aanbid die Here saam met ons - Sondae om 09:30

Gereformeerde Kerk Kleinmond
Wat ons glo
Ons bely die Christelike geloof soos dit opgeteken is in die Ekumeniese Belydenisskrifte en die Drie Formuliere van Eenheid.
Wat is die Evangelie?
God het die mens (man en vrou) goed geskape, maar deur die sondeval het die mens kosmiese verraad teen God gepleeg en die hele mensdom verdoem (Gen. 3). Elke mens is nie net sondig gebore nie (Rom. 8:7), maar sondig elke dag--in gedagte en daad--, en verdien daarom die ewige doodstraf.
God is heilig en regverdig en kan nie sonde ongestraf laat nie (Eks. 34:7), maar Hy is ook genadig en wil sondaars red (1 Tim. 2:4). Ons kan onsself nie red nie--net God kan ons van sy oordeel red.
​
Daarom het God van voor die grondlegging van die aarde af 'n plan beraam om sondaars te red: God het sy Seun, Jesus Christus, gestuur om mens te word. Jesus Christus, 100% God en 100% mens, het in ons plek die perfekte lewe gelei (wat ons nie kon doen nie) en in ons plek die dood (wat ons verdien) gesterf. In die ruilhandel op die kruis neem Jesus Christus al ons sondes op Hom, en gee vir sy vlekkelose lewe, sy perfekte rekord, vir elkeen wat op Hom vertrou vir verlossing.
​
Jesus Christus het werklik gesterf en opgestaan uit die dood, en daardeur die dood vir ewig oorwin.
​
'n Christen is iemand wat werklik berou het oor sy/haar sonde (nie omdat hy/sy nie hel toe wil gaan nie, maar omdat dit God grief), volkome op Christus vertrou vir verlossing, en Hom met blydskap dien en gehoorsaam. Goeie werke kan ons nie red nie--slegs geloof en vertroue op die goeie werk van Christus alleen kan ons red.
Dit is die Evangelie--die goeie nuus--van Jesus Christus, die Lam van God!